My budget, my gesin en gesond eet-hoe nou?
Ek sien deesdae baie artikels oor goedkoop maaltye wat rande rek. Ek is nie altyd seker vir watter gehoor dit geskryf is nie, want dit laat my eie moed eerder sak as wat dit help. Resepte met koeskoes is dalk vir sekere mense randrekkers, maar nie vir die gemiddelde persoon op straat nie. Ekself is ‘n ma van drie kinders wat almal aan die groei en ontwikkel is en ek kom agter hoe stygende voedselpryse EN groeiende behoeftes ‘n reuse impak op my sak het.
Verder sien ek in my werk (met eetsteurnisse en mense wat herstel van n leeftyd van diëte) die effek van skuldgevoelens rondom kos, en ‘n geweldige klem op wat mens ‘nie moet’ eet nie. ‘Nie te veel’ suiker, vet, stysel, vrugte ens. Voeg dan nou n beperkte begroting by en jy het n resep vir mismoedigheid en selfs vrees.
Met hierdie artikel wil ek dus versigtig raadgee, omdat elkeen se situasie uniek is. Van my voorstelle is prakties, maar ander het ten doel om die ‘groter-prentjie’ perspektief en kalmte te gee juis om jou te bemagtig om kos voor te berei vir jouself en jou gesin met soveel vreugde en gemoedsrus as moontlik.
Wenk 1: Brood of nie?
Brood bly een van die mees bekostigbare kositems op die rak-selfs al het die koste van hierdie basiese item ook opgegaan. Baie ma’s voel skaam omdat hul kinders ‘soveel brood eet’ en verkeer dikwels in n amper innerlike stryd omdat dit hul kinders se stapelvoedsel is. Brood kan egter dien as n wonderlike voertuig om n verskeidenheid voedingstowwe in te kry. Verder help dit jou as versorger om n vinnige maaltyd of twee byderhand te hê en DIT gee vir jou kapasiteit om môre en oormôre STEEDS vindingryk te dink om kos op die tafel te sit. Moenie n ‘issue’ skep rondom brood wat maak dat jou kinders voel brood is ‘eintlik’ nie gesond nie -en dit dan tog eet, maar met skaamte en skuld…dit skep ander probleme. (Dieselfde beginsel geld vir enige kosssoort).
Hier is n paar idees rondom brood:
*Koop die groftse brood wat jy kan bekostig en wat jou gesin bereid is om te eet. As jy dit kan afwissel sodat dit nie presies dieselfde brood is elke keer nie, is dit n bonus. As jyself brood kan bak, bak n paar brode op n keer om elektrisiteit te spaar en vries dit.
*Kyk of jy iets kan bysit in die vorm van proteïen en groente/vrugte sodat dit langer ‘hou-krag’ het en verskeidenheid bied:
Bv. Brood met eier (probeer ‘egg-in-a-hole’ of geroosterde broodvingers saam met n loperige eier om dinge interessant te hou) / Sop en ‘n broodjie bly ‘n lekker kombinasie wat mens selfs vir gaste kan voorsit/ Brood met ‘baked beans’ in die oond gebak/ snackwich met oorskiet aandete as vulsel ens. Saam met iets vars hierby (tamatie/komkommer/wortels ens) kan dit ‘n volledige maaltyd maak.
Wenk 2: Bekostigbare ‘superkosse’
As mens na sosiale media kyk skep dit die idee dat as jy nie sogenaamde ‘superkosse’ soos bloubessies, chiasaad, gojibessies en quinoa in jou dieet inkry nie, jy groot gaan uitmis op noodsaaklike nutriënte. Dis natuurlik bog en dit maak jou nie minder as jy dit nie eet nie, nie kan bekostig nie of nie daarvan hou nie! Ons voorgeslagte het baie goed gedoen op eenvoudige kosse tot hul beskikking sonder die insluiting van bg. kosse. Daar is regtig meer bekostigbare kos wat steeds gelaai is met n verskeidenheid voedingstowwe. Dis dalk nie vreeslik opwindend nie,maar ek hoop dat dit jou sal gerusstel dat jy steeds vir jou gesin goeie waarde kan gee met ‘gewone’ kosse.
Ek sonder n paar alledaagse ‘superkosse’ uit , maar dit is beslis nie tot hierdie beperk nie. Op my inkopielysie is wortels, kool, spinasie, uie, knoffel, lensies en droë bone, ‘pilchards’, eiers, hawermout, kruie en speserye. Bg. kosse is redelik bekostigbaar en algemeen beskikbaar, baie is hoog in vesel en ook proteïene en gelaai met ‘n verskeidenheid vitamiene, anti-oksidante en fitochemikalieë. Kies wat vir JOU familie werk.
Wenk 3: ‘Uitgerekte’ souse, bredies of sop
‘n ’Lang’ sous saam met ‘n stapelvoedsel (rys, mieliepap, koring, gort of aartappels) kan ‘n ver ent gaan om n hele paar monde te voed. Jy kan n bietjie maalvleis of stowevleis rek tot twee maaltye deur die volgende:
*Maak die vloeistof HEELWAT meer deur water,melk of ‘n sous by te voeg wat dan verdik word deur ‘n koppie hawermout, rooi lensies of enige fyngedrukte bone (soos kekerertjies/ nierboontjies of suikerboontjies).
*Maak dit GEURIG met speserye soos komyn, kaneel, paprika, borrie en naeltjies. Hierdie speserye gee dikwels ook ‘n kleurvolle VOORKOMS, wat net so belangrik is vir bevrediging. My vriendin, Martinette, sê nie verniet ‘Spice maak alles nice’ nie.
*Groente: Opgesnipperde spinasie, kool, wortel, uie en knoffel sal die voedingswaarde, vesel én volume van jou gereg verhoog.
*Kruie: As jy toegang tot droë of vars kruie het-waag jou hand en probeer iets nuuts bygooi en sommer heelwat.
*Bg. bestanddele is werklik voedsaam en bydraend tot goeie gesondheid. Lensies en droë bone bevat heelwat oplosbare vesel (wat help vir hartgesondheid, stabiele bloedsuiker asook gesonde dermgesondheid) en boonop proteïen. Groente soos kool, spinasie en wortel is hoog in noodsaaklike vitamiene en minerale en bevat net soos kruie en speserye ook fitochemikalieë wat ons op verskeie maniere bevoordeel.
Wenk 4: Vindingryke verskeidenheid
Die inname van ‘n verskeidenheid kosse verhoog jou inname van minerale, vitamiene en ander beskermende faktore. Maar verskeidenheid is ook belangrik vir ons as mense om maaltye INTERESSANT, APTYTLIK en BEVREDIGEND te hou. As jou bronne min is kan mens steeds werk aan verskeidenheid deur dieselfde kosse op VERSKILLENDE maniere voor te sit. Hier is vyf voorbeelde:
*Rys-bedien net so saam met daardie ‘lang’ souserige bredie, gooi n halwe koppie lensies by en kook dit so saam, maak ‘n eenskottelgereg met rys saam met als en nog wat EN kleur jou rys geel deur borrie by te sit!
*Lensies-maak ‘n lensiebredie in die plek van ‘n vleisbredie of rek maalvleis en ‘verleng’ en verdik n sous of bredie daarmee. Jy kan vir spotgoedkoop lensiespruite maak daarvan en sodoende ‘n ‘vars’ produk met hoë voedingswaarde verkry.
*Kool kan rou in slaaie opgesnipper word, dit kan die basis vorm van n roerbraai gereg, dit kan in groot stukke gebak word in die oond(as jy toegang tot n oond het), dit kan in soppe en souse bygevoeg word en jy kan dit fermenteer. Koljander, suurlemoensap en ander geure maak dit weer nuut en interessant.
*Oorskiet groente of kos kan in ‘n als-in-een rysgereg of maalvleisgereg gevoeg word, of ‘n nuwe baadjie kry as pastei met ‘n eenvoudige oorgietkors bo-oor, of gebak in klein muffinpannetjies.
*Hawermout: Gekookte pap soos hawermout is goedkoper as ‘bokspap’ en jy kan afwisseling verskaf met bv. kaneel en gestoofde appels daarby, of deur n hawermoutpannekoekie te maak (geweekte ½ k rou hawermout met geklitste eier en vanielje essens, gebraai in olie met grondboontjiebotter bo-op).
Wenk 5: Nagereg!
Lyk dit of jou huismense vuisvoos raak van jou ‘lang’ souse, of als-in-een ‘verlengde’ rysgeregte? Nagereg is ‘n wonderlike manier om etes interessant te hou en kan bydra tot daardie baie belangrike ‘bevredigingsfaktor’. In plaas van om dit na die tyd op te dien, maak dit DEEL van jou eintlike ete. Dink bv. aan gevulde pannekoeke(soet en sout), gestoofde appels in seisoen met kaneelsuiker, ‘n teelepel gekookte kondensmelk vir elk, tuisgemaakte warm sjokolade of vla,’n paar blokkies sjokolade vir elkeen ens. Deur dit op te dien saam met jou hoofmaaltyd kry jou kinders ook kans om dit nie as beloning te sien vir kos opeet nie, maar as deel van n verskeidenheid kosse instede van iets met verhoogde waarde. (As jy meer oor hierdie benadering wil weet kontak my of gaan lees op daaroor by www.ellynsatter.co.za).
Wenk 6: Wat kan jyself verbou,inmaak, verruil of selfs in die natuur ‘’oes’’?
*Jy voel dalk jy het nie groen vingers nie, maar in die tye waarin ons leef sal ek enige iemand aanmoedig om tog iets te probeer plant, al is dit in ‘n klein potjie.As ‘n leek wat al meer mislukkings as suksesse gehad het is spinasie, tiemie, en seldery goeie beginnerplante! Maar hou ook in gedagte waarvan JY en jou gesin hou-dit help nie jy het ‘n reuse radys-oes en niemand eet dit nie!
*Skuif jou skugterheid opsy en kyk of jy en jou buurvrou kan steggies uitruil, bv. roosmaryn, basiliekruid, grenadilla ens. Saam met wie kan jy saam-saam daardie 10kg sak aartappels aankoop of die ‘’çombo’’ spesiale aanbiedinge wat winkels dikwels het deel? Grootmaat bly maar goedkoper per kilo om aan te koop as in klein 500g pakkies-dit geld vir als van rys, sade, neute, olie, vleis ens.
*As jy wel in seisoen sit met oorvloed-dink hier aan vrugte in die somer, en groentes soos uie, wortels,kool ens is dit dalk tyd om wel te kyk na maniere om hierdie oorvloed in te maak vir later. Dis moeite, veral omdat die meeste van ons nie voel ons het die tyd of die vaardigheid om dit te doen nie. Maar wie nie waag nie, mis dalk uit!
*As jy avontuurlustig voel lees ook op oor die gebruik van brandnetels en spekboomblare-beide het unieke voeding en smake wat geen sorg nodig het nie en groei dalk reeds in jou tuin. Brandnetels se blare kan afgeoes word en sodra dit verhit word verdwyn die brand-dink dus aan bredies, korslose souttert, sop ens. Begin eers met bietjies-bietjies saam met spinasie om gewoond te raak aan die smaak. Spekboomblare kan veral in vars slaaie gebruik word. Gaan lees gerus verder oor ander plaaslike eetbare kosse in die natuur by die faceboekblad: ‘’Foraging-South Africa’’.
Wenk 7: ‘n Handvol perspektief: Die waarde van ‘n gedeelde maaltyd, opdiening, beplanning en blootstelling aan ‘nuwe’ kosse.
*Eenvoudige kos bedien met vreugde en dankbaarheid, sonder konflik, is ‘n skat wat jy jou kinders en gesin gee. Navorsing wys ons dat kinders van gesinne wat saam eet beter doen in terme van voeding maar ook emosioneel en sosiaal, ONGEAG ouers se inkomste, vlak van skoling, en familiestruktuur. Net die feit dat julle as gesin saam sit, eet en gesels dra al klaar by tot beter welstand, of jy nou pizza of kookkos eet.
*As jy iets moois het om jou eenvoudige gereg op te dien, doen dit. ‘n Mooi tafeldoek,opdienbak en ‘n kersie verhoog jou eenvoudige maaltyd na iets meer. Garnering of ‘garnishing’ laat ‘n randrekker-maaltyd ook sommer blink gepoets lyk! Dink hier aan gebraaide uie bo-op jou gereg, gerasperde suurlemoenskil in seisoen, ‘n laventel of roosmaryntakkie uit jou of jou buurvrou se tuin. Uit ondervinding het ek al gesien hoe so tikkie ‘ekstra’ in tye van vasbyt die skepper en eters van maaltye kan verkwik en inspireer.
*Beplanning van ‘n week se maaltye skrik sommige mense af, want dit kan voel soos iets wat energie verg. Eintlik SPAAR dit dinktyd asook geld as jy weet wat kom-vir inkope én vir vooraf grootmaat kook-en-vries. Gebruik voorspelbare ritmes tot jou voordeel, bv. ‘Meatless Mondays’, Pasta-Dinsdae, Bredie-en-rys Woensdae, Hoender-Donderdae, Pap-en-wors Vrydae, en Iets-van-als Saterdae ens.
*Dit neem tyd en baie blootstelling, sonder druk, om nuwe of vreemde kosse te aanvaar. Probeer om altyd iets op die tafel te hê wat almal bevredig sonder om te voel dat jy n aparte gereg vir iemand moet maak. My drie kinders het eers onlangs almal begin om viskoekies te eet. Ek het altyd gesorg dat ek dit kombineer met iets wat hulle wel almal geniet, soos aartappels of oondgebakte aartappeltjips. Een van my kinders het tot onlangs niks van lensies gehou nie, maar hy word so gereeld daaraan blootgestel dat hy al kans sien om hier en daar te probeer-maar dit kom met tyd en sonder druk! EN, dis nie ‘n morele kwessie as jou kinders of jy nie van sekere ‘gesonde’ kosse hou nie (Ek is n dieetkundige en een van my kinders hou omtrent van GEEN vrugte nie!).
Dis werklik n groot taak om dag in en dag uit vir jouself en ander mense kos voor te sit EN met n beperkte begroting dit te doen. Neem wenke wat vir JOU en JOU gesin werk en jul vreugde rondom kos behoue laat bly. Vir meer inligting, aanmoediging of leiding rondom kos- en lyfkwessies, kontak my gerus by www.carienmeyer.co.za of kyk na my faceboekblad, ‘Food&Body Conversations’. Ek sien mense in persoon en aanlyn vir konsultasies.
**Let asb daarop dat bg. artikel nie mediese raad is nie. Vir spesifieke advies in terme van jou dieet en gesondheid is n individuele konsultasie nodig.