Laatmiddag-tot-Laataand Lus: “Ek peusel sonder ophou”

Menige vrou is bekend met die behoefte om aanhoudend te peusel van hier rondom 3uur/4uur die middag tot wat soms voel of dit nooit ophou tot by slaaptyd nie. Dit begin dikwels met n lus vir iets soets en ’dekadents’, wat dan ‘pligsgetrou’ in die gedagtes opsy geskuif word vir iets meer ‘heilsaams’ soos amandels of n stukkie kaas. Na heelwat amandels en kaas word daar dan tog maar geëindig by die oorspronklike dekadente gedagte gevolg deur skuldgevoelens of ‘n totale oorgee aan die oomblik. Die uiteinde is dan dikwels n voorneme dat môre anders gaan wees. En die res,soos hulle sê, is geskiedenis ….

Wanneer dit kom by eetdinamika is daar nie sommer n 3-stap reseppie nie-en ek sal enige bemarking wat dit so wil oordra bevraagteken. My skrywe is dus nie bedoel om as n japtrap-antwoord te dien op jou probleem nie. Maar, miskien gee dit jou n beginpunt om van te werk. As kosdinge chaoties is en verweefd is met emosies, gewoontes en geskiedenis dan is die gevoel van oorweldiging verlammend. n Plek om by te begin, al is dit nie die perfekte plek nie, help al klaar om kalmer na die ding te kyk. Hier volg dus n paar dinge om te bedink aangaande jou namiddag-tot-laataand-peusel:

Jy eet dalk té min deur die dag en maak op daarvoor saans. Baie mense is só besig deur die dag en kom eers later die dag in voeling met hul honger, en dan is dit nie meer n ‘mak’ honger nie. Oorhonger dryf jou tot lank ná  gewone honger al bevredig sou wees. Dit is dan nie ‘n kwessie van gebrek aan selfdissipline nie,eerder momentum wat n eie lewe kry.

Jy het waarskynlik ook ander ‘hongertes’ wat uitskree vir bevrediging na n lang en stresvolle dag. Miskien het jy n pouse nodig, afblaas nodig, troos nodig en a.g.v. tè min tyd tè laat is kos n gerieflike plaasvervanger om te ontsnap van al jou ander behoeftes en dalk verantwoordelikhede.

Jy eet (of dink) heel moontlik rigied, veral as jy n geskiedenis het van diëte volg. As sekere kosse  ‘verbode’ is verhoog dit verseker hul aantrekkingskrag. As mens heeldag voel jou wilskrag moet hoog wees dan is die ‘verbode vrug’ saans soveel aanlokliker as jy moeg en jou skanse af is. Baie mense dieet deur die dag, en saans word dan die beloning vir die dag se ‘soet’wees. (Let wel, ek sit ‘verbode’ en vroeër ook ‘dekadent’ doelbewus in aanhalingstekens omdat ek nie dink hierdie terme  ons regtig dien in ons verhouding met kos nie).

Laastens dink ek dis belangrik om te noem dat die aksie van eet bedóél is om bevredigend, ontspannend en voedend te wees-vir liggaam èn emosies. Om te eet net vir genot kan deel wees van n gesonde manier rondom kos wees. MAAR, as dit jou aanhoudend wegneem van ander behoeftes aanspreek wat ook vra vir aandag of jou uit beheer rondom kos en jou lyf laat voel, is dit ‘n flikkerliggie wat sê dieper aandag is nodig.

I.p.v. om jouself te kasty daaroor is dit meer produktief om te kyk wat die funksie van kos moontlik OOK vervul in jou lewe. Stop die verlammende veroordeling, sodat jy ordentlike ‘’speurwerk’’ kan doen en die regte leidrade opvolg. Moet ook nie skaam wees om uit te reik vir hulp nie. Daar is n groeiende groep dieetkundiges en terapeute in ons eie land wat jou kan help met hierdie proses om van chaos na groter kalmte rondom kos én ander behoeftes te beweeg. Ekself kan gekontak word via my webwerf www.carienmeyer.co.za vir aanlyn konsultasies, of kort kursusse. Jy kan my ook op Facebook volg by ‘Food&Body Conversations’.

“Baie mense is só besig deur die dag en kom eers later die dag in voeling met hul honger, en dan is dit nie meer n ‘mak’ honger nie. “