MA’S EN HUL DOGTERS: DEEL 2: Wanneer Ma se lyf óók verander – die dubbele uitdaging.

Liewe, mede-ma of vrou. My vorige artikel (Deel 1) het die dubbele uitdaging begin aanraak van jou eie lyfveranderings en dalk gesondheidskrisisse terwyl jy terselfdertyd dogters in die huis het wat deur puberteit en die onsekerhede daarvan gaan.  Ek het afgeëindig met die idee dat jou worsteling in ‘n sekere sin nie net jou eie is of ter wille van jouself is nie, maar ook ter wille van jou dogters wat waarneem en absorbeer, in ‘n baie sensitiewe tydperk van hul ontwikkeling.

Dit is ‘n groot verantwoordelikheid en jy voel dalk alreeds skuldig oor foute wat jy begaan het. Werk sagkens met jouself ook! Niemand kan 100% voorkom dat ‘n kind gaan sukkel met kos-en-lyfdinge nie; daar is net te veel ander dinge wat ook ‘n rol speel (persoonlikeid, genetika, buite-boodskappe, druk van buite ens). Jy kan wel sorg vir goeie gesprekke, kritiese denke rondom skoonheid en sosiale media en jou dogter(en seun) soveel as moontlik ‘’gereedskap’’ gee vir die pad.

Ek herinner jou ook dat dit normaal is om bietjie (of baie!) weerloos te voel in watter “lyfseisoen’’ jy jou ook al bevind.  Met al die blootstelling aan “influencers’’, Instagram glansoomblikke, beste-hoek-fotografie asook photoshop apps is dit al hoe moeiliker om te aanvaar dat normale veranderinge en veroudering gepas is. Wees dus simpatiek met jouself!

Hoe gee jy dan nou ruimte vir jouself in terme van worsteling met jou lyf, en ook uitdagings in jou gesondheid wat dalk veranderinge in jou leefstyl moet insluit-EN hou jy in gedagte dat jy brose tieners het wat deur groot en ongemaklike fisiese en emosionele veranderinge gaan? Hier is ‘n paar voorstelle om jou aan die dink te sit:

  • Luister na jou eie dialoog oor jou LYF –maw, wat is die tipe dinge wat jy rondom jou eie lyf sê, dink en doen? Die ‘dink’ deel is ‘n moeiliker en langertermyn aspek om aan te werk, maar die ‘sê’ en ‘doen’ deel kan jy vinniger verander MITS jy bewus is van jou eie dialoog. Hoe dikwels kyk jy krities in die spieël, lewer jy kommentaar oor “als wat deesdae hang’’, hoe jy óok so maer soos sussie was op haar ouderdom, of hoe jou lyf verander het sedert jy 40 geword het. Vir jou jong, ontvanklike gehoor verhoog dit onsekerheid, soveel so dat hulle nie wíl oud raak nie en veranderinge in hul lywe as ‘n bedreiging sien.
  • Luister na jou eie dialoog rondom KOS: Soos bo, wat hoor jou dogter oor kos? Hoor sy dat jy ”oortree” het, “gekroek” het of, dat jy nie saam van die pasta of aartappel kan eet nie want op jou ouderdom maak dit vet? ‘n Oomblik op die lippe, maar vir ewig op die heupe…. As mens eers mooi begin oplet is dit moeilik om mis te kyk hoe deurspek ons taal is met moreel-gelaaide byvoeglike naamwoorde rondom kos! I.p.v. bemagtig, wek hierdie tipe woorde eerder vrees, en vrees in hierdie konteks bevorder glad nie vaardigheid rondom kos en lyfdinge nie. Sien punt 3 vir meer hieroor..
  • Werk leefstylveranderinge in sonder ‘n ”reg-of-weg’’ veldtog: As jy bv. spesifiek meer groen groente in jou eetpatroon wil insluit, doen dit sonder ‘n “morele” lessie waar jy dit kontrasteer met bv. suiker. Eerstens skep mens so ‘n patroon van ”ek-is-goed-as-ek-brokkolie-eet”  teenoor ”ek-is-sleg-as-ek-sjokolade-eet’’ – ‘n wenresep om sjokolade onwettiger maar ook ekstra opwindend te maak met skaamte en skuld sommer pasella daarby. Hierdie assosiasie met kos is ‘n alombekende sneller vir ‘n chaotiese verhouding met kos. Tweedens loop mens gevaar om te véél van kos te verwag, nl. dat brokkolie álle kwale en mankemente gaan genees en enige iets soets verantwoordelik is vir áls wat fout gaan. Derdens skep mens met so reg-of-weg-veldtog eintlik ‘n nuwe dieet met spesifieke voorskrifte, wat aanvanklik ‘n gevoel van beheer gee-tot jy nie meer kan nie-en dan is jy weer uit beheer. Dit is die klassieke dieetsiklus wat jy NIE vir jou kinders wil modelleer nie! En ja, natuurlik bevat brokkolie baie voedingstowwe en voordelige fitochemiekalië, maar hou dit ‘n neutrale feit eerder as ‘n gelaaide wapen.
  • Beklemtoon funksie bo voorkoms: Wanneer jy bg. veranderinge maak aan jou eetpatroon, meer gereeld wil oefen of dalk ander tipe oefeninge byvoeg, bespreek van die voordele waaraan jy werk sonder ‘n fokus op hoe jy hoop jou lyf gaan lyk. M.a.w. beklemtoon funksie bó voorkoms- dat dit jou bloeddruk en cholesterol positief kan beïnvloed, jou help om beter te slaap, spanning beter te hanteer, ens.
  • Wees eerlik maar deel wys: Daar is ‘n plek om met jou dogter jou eie kos-en lyfworstelings te deel, maar met omsigtigheid. As jy uit ‘n geskiedenis kom(daardie kategorie 1 waarna ek in Deel 1 verwys) waar kos-en-lyfdinge meestal ‘n opdraande stryd was en jy weer midde-in dit voel, sou ek versigtig wees. Jy wil beslis voorkom dat julle julself in ‘n gemeensame, gedeelde “gat” bevind waar ‘’saam-dieet’’ na die oplossing lyk. Natuurlik wil mens ‘n veilige plek hê waar jy dit kan bespreek, maar hou dit vir privaatgesprekke met ‘n spesifieke vriendin wat verder op die pad is as jy wanneer jy onseker is oor hoeveel om met jou dogter te deel. Aan die ander kant kan dit jou dogter baie hoop gee as jy deel dat jy ook soms sukkel om jou lyf te aanvaar en hoe jy dit sien as ‘n geleentheid om dieper te delf, te kyk waar die boodskappe vandaan kom, watter ‘dialoog’ van die kultuur of hoe jy grootgeword het nog ‘n houvas het ens. Maak altyd seker dat jou ”oplossings’’ dieper gaan as die voorstel van ‘n dieet.
  • Doen bestekopname oor wat in jou huis oor ”ander” lywe bespreek word. Selfs die bespreking van ‘n afrigter se boepie of ‘n celebrity se gewigstoename skep die indruk dat mense se lywe bespreek en beoordeel mag word. Jou kinders(seuns en dogters) het nodig om betrek te word by ‘n bespreking (nie ‘n preek nie!) hieroor om bewustheid te skep hoe mens sonder om twee maal te dink vrylik opinies oor ander uitspreek. Besprekings hieroor laat hul nie net krities dink nie, maar voorsien broodnodige respekvolle “woordeskat” vir wanneer hulle self ongemaklik voel oor hul lyf. Woordeskat help geweldig om ongemak beter te omskryf en sodoende by die eintlike wortel uit te kom. M.a.w., midde-in jou eie lyfstryd kan jy steeds ‘n veilige hawe skep t.o.v lywe al voel jy onseker oor joune.
  • Skep ‘n prentjie vir jou en jou dogter. Soos wie sal jy graag wil ouer word? Hierdie is ‘n lekker onderwerp om met jou dogters(en seuns) te bespreek en ‘n kykie in hul wêreld te kry. Laat hulle dink aan ‘n gunsteling ouer persoon wat ”mooi” oud word-mooi in die sin van met blymoedigheid en geloof t.s.v. moeilike omstandighede ens. Kry ook vir jouself rolmodelle, nie op grond van hul voorkoms nie, maar op grond van wie hulle is. Sodoende help jy jouself en jou kinders met perspektief oor waaroor die lewe eintlik gaan en gee jy vir hulle en jouself ‘n “prentjie” om na terug te keer wanneer dit nodig is. So ‘n visuele beeld kan ‘n baie vinnige en kragtige stuk “gereedskap” wees om weer by ewewig uit te kom in wankelrige lyftye- wat gewaarborg is deur ‘n vrou se leeftyd.
  • Gaan kyk weer na Deel 1 van hierdie artikel en besluit in watter kategorie jy val wat betref jou verhouding met kos en lyf. Waarin het jy hulp nodig? Miskien moet jy net weer herinner word aan die groter perspektief van ouerword-wat belangrik is, wat jou waardes is instede van die kultuur om ons se boodskap van ewigdurende jeugdigheid. Jy het dalk bloot nodig om ‘n paar aspekte rondom jou leefstyl ‘n paar grade aan te pas (bv. kyk na slaappatrone, meer uiteenlopende oefening, meer vesel in jou dieet). Miskien het jy meer hulp nodig t.o.v. jou interne dialoog, jou ”prentjie” van ouer word en woordeskat om jou eie ongemak beter en meer akkuraat te omskryf. Hoe dit ookal sy, daar is hulp en hoop vir jou!

As jy aanklank by hierdie artikels gevind het, laat my asb weet! Jy mag dalk hiervan ook hou as jy tieners het of hiervan as jy bietjie uit beheer voel rondom peusel. Vind my via my webwerf www.carienmeyer.co.za of  Facebook as https://www.facebook.com/foodandbodyconversations/  en Instagram as @cariencmdietitian.

Werk leefstylveranderinge in sonder ‘n ‘’reg-of-weg’’ veldtog