Mamma, lyk ek vet? (Deel 2): Kernboodskappe vir jou dogter oor haar lyf

In Deel 1 het ek beskryf hoe die ontwikkeling van jong kind na jong tiener plaasvind asook ons as ouers se tipiese benoudheid daar rondom, veral as ons die gevreesde ‘’vraag’’ hoor. Dis nou die ‘’Mamma, is ek vet’’ vraag. In hierdie opvolgartikel wil ek jou graag n paar praktiese riglyne gee.

n Gesprek oor jou kind se unieke lyf is baie soortgelyk aan n gesprek oor die seksuele-nooit eenmalig nie, rustig, in ‘lae’ en van kleins af. Saai ouderdomsgepaste ‘saadjies’ vir goeie gesprekke later.  Die goeie nuus is dat jy dit aan jou kind kan oordra al is jyself nog nie ‘heel’ in terme van jou eie verhouding met kos en jou lyf nie. Daar is wonderlike ‘gesondword’- moontlikhede om saam met jou kinders deur hul worstelinge te gaan. Dit geld natuurlik vir meer as net kosdinge ook!

Hier is n paar anker boodskappe om aan jou dogter oor te dra:

  1. Dit is normaal vir jou om gewig aan te sit, veral om jou middel en heupe. Dit berei jou voor vir menstruasie, volwasse vrouwees en kinders kry.
  1. Jou lyf GAAN verander…REGDEUR jou lewe. Dit is nie bedoel om dieselfde te bly nie. Dink maar aan al die veranderinge van baba-wees tot en met n rype, ‘’beplooide ‘’ ouderdom.
  1. Lywe is nie veronderstel om dieselfde te lyk nie. Lywe kom in verskillende vorme en groottes. Net soos wat mense se neuse en voete verskillende lyk, so lyk lywe en liggaamsvorms verskillend(dis n uitstekende boodskap om al van vroeg af vir jou kind deur te gee en lê die fondasie vir meer gekompliseerde gesprekke later).
  1. Net 5% van die bevolking lyk natuurlik soos die lywe wat die media voorstel aan ons as die ideale lyf. Selfs daardie lywe en gesigte is ‘gedokter’ en verander om beter te lyk as die werklikheid. (Kritiese evaulasie van sosiale media is werklik n noodsaaklike lewensvaardigheid vir ons kinders).
  1. Jy kan veg teen jou natuurlike liggaamsbou of jy kan daarmee saamwerk deur dit te ondersteun om sterk en gesond te bly. Indien jy dit gaan beveg beweeg jy verder weg van n gesonde lyf en metabolisme, eerder as nader.
  1. Praat verder met jou kind oor die wonder van haar lyf, wat dit als kan DOEN, eerder as net hoe dit LYK. Let ook op hoe jy en jou gesinsmense praat oor mense-mens maak maklik aannames oor hoe iemand IS deur net na hul voorkoms te kyk. Ons kinders internaliseer ons as ouers se stemme(sienings) as hul eie.
  1. Laastens, en myns insiens die BELANGRIKSTE: Maak seker dat jy jou kind help om die ONDERLIGGENDE onsekerheid aan te spreek wanneer sy laat blyk ‘sy voel vet’. I.p.v. om jou kind te help dieet of om haar te paai deur te sê sy is glad nie vet nie-gaan n laag dieper. Vra iets soos, ‘Hoekom vra jy dit Julia? Hoekom pla dit jou? Hoekom is dit vir jou belangrik om te weet?’ Jy sal daardeur meer inligting inwin oor die konteks van die vraag en veral die onderliggende onsekerheid. Daardie onsekerheid hou dikwels verband met n vrees vir verwerping, van nie inpas by portuurgroepe nie, van nie raakgesien word nie tot baie meer gekompliseerd as dit. Deur dieper te delf leer jy haar n lewensvaardigheid wat sy dwarsdeur haar lewe kan gebruik as daardie vraag weer vir haar n problem raak.

Om op te som: n Kind wie se bou van nature nie presies inpas by die samelewing se idee van maer en mooi nie, moet nie aangemoedig word om te dieet nie. Sy moet aangemoedig word om n sterk ‘skill set’ en identiteit te bou in wie sy is en hoe sy geskape is. Dit lê n uitstekende fondasie vir n gesonde verhouding met haar lyf en met kos, asook algemene gesondheid en ‘n gesonde metabolisme. Kinders wat dieet, sukkel dikwels later erger met gewigsprobleme, hul identiteit ‘buite’ hul lyf en selfs eetsteurnisse instede dat hul hul eie unieke bou aanvaar en geniet.

Dus, verwag die vraag! Dit GAAN kom! Saai proaktief saadjies van kleins af. Delf dieper as net n eenvoudige antwoord. En moenie te hard op jouself wees nie, liewe mamma. As jy skuldig voel of voel jy het foute gemaak, vergewe jouself, kry raad en hulp.  Vir jou dogter,maar ook vir jouself. Dis nooit te laat om n beter manier van dink rondom jou lyf en kos te ontwikkel nie.

n’ Laaste gedagte: Mens kan soms als volgens die boek doen en steeds n kind hê wat sukkel met hul lyf en gemoed, of wat n selfs n eetsteurnis kry. Daar is baie faktore wat n rol speel, en jy as ouer kan onmoontlik al die ‘gate toestop’ in jou kind se mondering. Bg wenke sal egter help om n goeie fondasie te lê vir die uitdagings wat elke vrou in die gesig staar in ons dieet- en lyfgesentreerde samelewing.

(Die artikel is geskryf deur Carien Meyer, n dieetkundige en self ‘n ma van drie. Sy gee ook opleiding en praatjies vir ouers en tieners rakende n goeie verhouding met lyf- en kosdinge. Kontak haar by www.carienmeyer.com of haar facebookblad ‘’Food&Body Conversations’’.)

“n Kind wie se bou van nature nie presies inpas by die samelewing se idee van maer en mooi nie, moet nie aangemoedig word om te dieet nie. Sy moet aangemoedig word om n sterk ‘skill set’ en identiteit te bou in wie sy is en hoe sy geskape is. “