My kliënte beskryf prominente “lyfveranderende tye” dikwels as puberteit en adolesensie, dalk die “eerstejaars-sindroom’’ of oorsese aupairwerk na skool (maw kos en omgewing wat drasties verskil het van waaraan hul gewoond was tesame met emosionele troos in kos vind ver weg van die huis). Daarna noem hulle trou, (en op ‘n dieet gegaan vir die groot dag se trourok met piepklein middeltjie), trek na nuwe omgewings en kinders kry. Saam met elke nuwe seisoen het nuwe emosies, verandering in slaap-en aktiwiteitspatrone, en groter werkslading gekom en sou hulle dikwels deur n hele paar diëte draf opsoek na oplossings en ‘n mate van beheer. Laastens noem hulle die fase van ouerword of  “middeljare’’  wat heelwat vaer en moeiliker is om te beskryf, maar hulle dikwels net so onkant vang soos puberteit- onverwagte skommelinge in emosies, nuwe diagnoses of skete en kwale saam met onverhoedse lyfveranderinge wat als saam voel of dinge figuurlik en letterlik net “afwaarts’’ neig!

Met paartjies wat deesdae later kinders het is dit nie ongewoon dat ma’s deur lg. ouerword-lyfkrisisse gaan terwyl hul dogters TERSELFDERTYD deur puberteit se groot lyfveranderinge gaan nie. Ek lig dikwels uit dat wanneer n tiener die onsekerste voel oor hulself, hulle ook deur die grootste veranderings in hul lywe gaan. Geen wonder dat die meeste volwasse vroue hul wroeging met kos en hul lyf kan terugvoer na hierdie weerlose tyd in hul lewe nie. Voeg nou daarby ‘n ma se ‘’eie’’ seisoen waarin syself sukkel om perspektief te kry oor haar lyf, dalk gesondheidskwessies, beserings en ander stressors en dit het al die bestanddele vir ‘n uitdagende tyd.

Mens sou vroue rofweg kon opdeel in 3 kategorieë wat kos en lyfdinge aanbetref: 1) Dié wat nog altyd ‘n onbevredigende, ‘’opdraande’’ verhouding met hul lyf en kos gehad het. 2)Dié wat sonder veel wroeging oor kos en hul lywe tot hier gekom het. 3) Dié wat hard moes veg om n goeie verhouding met kos en lyf te verkry deur heelwat oplees, refleksie en insette van buite.

In al drie bg. kategorieë kan ouerword en naderende “middeljare’’ opnuut ‘n krisis wees. Vir die eerste groep kan lyf en gesondheidsveranderinge ten spyte van “versigtige” eet- en oefenpatrone daardie wankelrige verhouding met kos en lyf tot ‘n nuwe laagtepunt dryf; dit kan die tweede groep op ‘n vreemd-onsekere plek bring, omdat hul eens “ongekompliseerde’’ lywe nou “onbekend’’ en ongemaklik voel. Die laaste groep mag voel dat hul weer van vooraf moet “beding’’ vir ‘n plekkie in die son en selfs teleurgesteld in hulself voel dat hulle nie onaangeraak deur hierdie seisoen gaan nie, t.s.v. jare se werk, nie-dieet en luister na hulle lyf eerder as buiteboodskappe deur kultuur en media.

Die uitdaging in die “parallele’’ seisoene vir ma en dogter lê daarin dat jy as ma jou ewewig wil vind vir jouself maar ook ter wille van jou dogter. Jou stryd is dus in ‘n sekere sin nie net jou eie nie, dit word ook waargeneem en geabsorbeer deur jou dogter en kan potensieel ‘n ‘’template’’ of voetpaadjie bied vir haar toekomstige reaksies. (Ek praat hier meestal net van dogters, maar seuns absorbeer dit natuurlik ook!). Dit is alombekend in die wêreld van sielkunde dat kinders hul ouer of prominente ouer se ‘stem’ internaliseer totdat hul op n punt kom as grootmens om hul eie stem te vind. Lg. gebeur nie altyd baie suksesvol nie en in my werk sien ek dit baie dikwels uitspeel in die kos-en-lyfspasie waar die volwasse kliënt steeds sit met ongesonde  “dialoog” wat eintlik van ‘n ouer afkomstig is. Jou “dialoog’’ in die proses maak dus saak, vir jouself en vir die volgende generasie.

Lees Deel 2 vir praktiese wenke om hierdie proses vir jou en jou kind te vergemaklik. Lees gerus ook my vorige artikels met praktiese raad vir ouers rondom kinders en puberteit, deel 1 en deel 2.

My webwerf is www.carienmeyer.co.za en ek is ook op Facebook as https://www.facebook.com/foodandbodyconversations/  en Instagram as @cariencmdietitian.

“Die uitdaging in die ‘’parallele’’ seisoene vir ma en dogter lê daarin dat jy as ma jou ewewig wil vind vir jouself, maar ook ter wille van jou dogter. “

DOWNLOAD PDF