Mamma, lyk ek vet? ‘n Oënskynlike onskuldige vraag wat behoorlik n swetterjoel emosies in ons as moeders, vrouens en ‘diep-binne-in-steeds-dogtertjies’ ontlok. Want, te dikwels is dit n vraag in ons eie gedagtes ook. Soos die stiefma in Sneeuwitjie en die sewe dwergies wat gereeld by haar spiëel die versekering moes gaan kry of sy steeds die mooiste in die land is, so is ‘die vraag oor of ek vet lyk’ iets soortgelyk vir die hedendaagse vrou -is sy waardevol genoeg, word sy raakgesien, voldoen sy aan die vereistes om n vrou te wees vandag?
Die antwoord op die vraag is natuurlik nie een-dimensioneel nie . Maar hoe hanteer jy as ma dit? Veral as jyself onseker voel en worstel met jou eie lyfdinge, en wonder of jy ‘legit’ is. Kom ek gee net eers bietjie konteks en agtergrond rakende normale ontwikkeling:
Daar was n tyd wat jou dogtertjie salig onbewus was van haar lyfie, behalwe die feit dat dit soveel kon DOEN. ’Mamma, kyk hoe hoog kan ek boomklim’. ‘Mamma, ek kan n handstaan doen!’ Haar kommentaar oor jou lyf was ewe onskuldig en heerlik. ‘Mamma, jy voel so lekker sag, jou boudjies voel soos marshmallows…of ‘jou elmboog se velletjies is so lekker sag!’ Jy het haar dalk styf vasgehou en gehoop die oomblik hou vir ewig.
Stadig maar seker maak ‘onbewustheid’ plek vir ‘self-bewustheid’…n deel hiervan is normaal rondom puberteit, rofweg van so 11 jaar oud, maar soms so vroeg as 6/7 jaar, afhangende van ander faktore soos persoonlikheid, familie-dinamika , familie en naby-mense se siening en veral kommentaar oor ander mense se lywe. Gedurende die tyd wat n meisie se fisieke voorkoms vir haar die belangrikste begin raak gaan haar lyf ook deur die MEESTE veranderings. Dis ook dan geen wonder dat meisies in hierdie tyd ongemaklik raak met die kontras wat hul beleef in hul eie lyf teenoor dit wat hulle sien in die media nie.
Puberteit,proporsies en korttermynplanne
Puberteit is die begin van n skerp opwaartse kurwe van ongemak. As n meisie daarby nog vroeër ontwikkel het as haar portuurgroep verhoog dit als soveel meer en kan haar lyf vir haar voel soos die enigste struikelblok wat haar weerhou van inpas. Lg is natuurlik nie waar nie, maar vir die ontwikkelende adolesente brein is dit die ‘vertaling’ wat sin maak op daardie stadium. ‘As ek maar net maerder kan wees, dan sal als beter wees.’ Maer-wees raak die simbool van geluk en selfs ontvlugting van alle ander ongemak. Die situasie word erger gemaak en ‘bevestig’ deur n kultuur wat hoë waarde plaas op voorkoms ten alle koste. As jong tieners dus gevra word wat hul eerder wil wees-mooi en maer, of slim en vaardig is die antwoord natuurlik eersgenoemde.
Dit is egter baie normaal vir meisies om voor én gedurende puberteit gewig op te tel. Veral rondom hulle middellyf en heupe. Hierdie veranderinge vind plaas om hulle voor te berei op vrou-word, menstruasie en gesonde hormonale funksie. En dit is normaal om ‘uit proporsie’ te voel aangesien hierdie veranderinge nie gelyktydig met dieselfde hoeveelheid ‘lengtegroei’ gepaard gaan nie.
Hierin lê die gevaar: As ons as moeders EN vaders nie besef dat hierdie veranderinge normaal is nie, kan ons ‘inkoop’ in die ongemak en maniere soek om ‘korttermyn’ verligting te bring in die vorm van goedbedoelde ‘waarskuwings’(‘het jy nie nou al genoeg geëet nie liefie?’, diëte ,oefenprogramme ens . As moeders is ons kinders se emosionele welstand immers dikwels n barometer van ons welstand. n Plan, soos n diëet, voel soos iets tasbaars wat ons kan doen om ons eie en ons kind se ongemak te verminder. As ons verder ons eie bagasie het van tienerwees, ‘oorgewig’ was in vergelyking met ons portuurgroep, maak dit ons motiewe nog meer goed bedoeld, maar steeds riskant.
Dit is welbekend dat die meeste meisies hul eerste diëet begin volg rondom puberteit-en baie dikwels saam met n ouer. Dit is egter n verdere feit dat diëet inmeng met n kind se metabolisme, én met haar vertroue in haar eie liggaam se veranderinge. Diëet neem jou kind verder weg van luister en vertroue kry in haar lyf se seine van honger, versadiging en beweging. Met diëet verwys ek na die moralisering van kosse (goed vs sleg) en die beperking van kosse om liggaamsvorm te manipuleer teen wat gesond en normaal is vir die spesifieke kind se normale groeikurwe en bou. Dit beklemtoon verder die feit dat daar ‘tog iets fout is’ met haar liggaam. Die doelbewuste en oormatige beperking van sekere kosse het dikwels n verdere gevolg-en dit is dat die beperking daarvan dit veel MEER aanloklik maak en lei tot tye van onthouding wat gevolg word deur tye van onbeheerste hoeveelhede eet daarvan gepaardgaande met geweldige skaamte daaroor. Menige volwasse vrou sal hierdie siklus herken. Ek sien die ‘ongevalle’ hiervan twee, drie en en vier dekades later. Daar IS egter dinge wat jy as ouer kan doen om te help dat jou kind nie dieselfde (voorspelbare) pad stap nie.
In Deel 2 deel ek wenke om jou tiener (en jong kind) te help en voor te berei om hierdie moeilike seisoen van hul ontwikkeling te bestuur. Indien jy voel jy het leiding nodig as ouer is jy welkom om my te kontak via my website www.carienmeyer.co.za .
Hierdie artikel is geskryf deur Carien Meyer, Dieetkundige. Vind haar op Facebook by Food&Body Conversations of website www.carienmeyer.co.za
“Gedurende die tyd wat n meisie se fisieke voorkoms vir haar die belangrikste begin raak gaan haar lyf ook deur die MEESTE veranderings”.